Die Pireneë (Frans: Pyrénées, Spaans: Pirineos, Katalaans: Pirineus, Oksitaans: Pirenèus of Pirenèas, Aragonees: Perinés, Baskies: Pirinioak) is 'n bergreeks in Suidwes-Europa, wat die natuurlike grens tussen Frankryk en Spanje vorm. Die Pireneë skei Frankryk van die Iberiese Skiereiland en strek oor 'n afstand van sowat 430 kilometer van die Golf van Biskaje in die Atlantiese Oseaan tot by die Kaap Creus aan die Middellandse See.
Die hoogste bergrug vorm grotendeels ook die grenslyn tussen Frankryk en Spanje, terwyl die landgebonde vorstedom Andorra tussen dié twee state lê. Die Val d'Aran is 'n uitsondering; die vallei lê teen die noordelike kant van die bergreeks, behoort egter tot Spanje.
In politieke en administratiewe opsig maak die Pireneë deel uit van die Franse départements Pyrénées-Orientales, Aude, Ariège, Haute-Garonne, Hautes-Pyrénées en Pyrénées-Atlantiques (die Nasionale Pireneëpark lê in die twee laasgenoemde départements); en die Spaanse provinsies Girona, Barcelona, Lleida, Huesca, Zaragoza, Navarra en Gipuzkoa. Daarnaas maak die Pireneë ook deel uit van die onafhanklike vorstedom Andorra. Pyrenees composite NASA.jpg In geografiese opsig word die bergreeks gewoonlik in die Sentrale, Atlantiese (of Westelike) en Oostelike Pireneë verdeel.
Die Sentrale Pireneë strek van Port de Canfranc in oostelike rigting tot by die Val d'Aran. Hier lê die hoogste bergspitse:
In die Atlantiese Pireneë neem die gemiddelde hoogtes geleidelik in oos-westelike rigting af. Met die uitsondering van een breuk teen die uiterste oostelike kant van die Pyrénées Ariégeoises het die bergspitse van die Oostelike Pireneë meer of min dieselfde hoogte, totdat hulle in die Albères-groep steil begin daal.
Die Pireneë is ouer as die Alpe; hulle afsaksels is vir die eerste keer in die Paleosoïese en Mesosoïese tydperke in die kusbekkens gevorm. Die seebodem van die Golf van Gascogne het tussen 100 en 150 miljoen jaar gelede begin sprei en die huidige gebied van Spanje teen Frankryk gestoot en sodoende groot lae van afsaksels saamgepers. Die hewige druk en opwaartse beweging van die aardkors het eers die oostelike gedeelte geraak en daarna langs die hele bergketting gestrek, om uiteindelik sy hoogtepunt in die Eoseen (60 miljoen jaar gelede) te bereik.
Die oostelike gedeelte van die Pireneë bestaan hoofsaaklik uit graniet en gneisagtige gesteentes, terwyl die granietpieke in die ooste deur lae van kalksteen flankeer word. Die massiewe en onverslete voorkoms van die bergreeks is te danke aan die groot hoeveelhede graniet, wat baie goed bestand is teen erosie, en die swak ontwikkeling van gletsers.
Die hoogste waterval in die Pireneë is die Gavarnie-valle met 'n hoogte van 462 meter, wat teen die boloop van die Gave de Pau lê. Die Cirque de Gavarnie in dieselfde vallei is een van die mees bekende voorbeelde van die cirque-formasies. Laer bergpasse ontbreek; net die Col de la Perche, geleë tussen die valleie van die Têt- en Segreriviere, en die Col de Semport of Port de Canfranc langs die ou Romeinse pad van Zaragoza na Oloron-Sainte-Marie verbind die pad- en spoorwegnetwerke van Frankryk en Spanje aan weerskante van die bergreeks.
'n Bekende geografiese kenmerk is La Brèche de Roland, 'n kloof in die bergreeks, wat volgens tradisionele legendes deur die Frankiese ridder Roland geskep is.
In teenstelling met die Alpe is daar 'n oorvloed mineraalbaddens soos dié van Bagnères-de-Luchon en Eaux-Chaudes. Hulle bevat groter hoeveelhede swael en lê op groot hoogtes, waar die graniet in aanraking kom met die lae van ander gesteentes. Die laer geleë mineraalbaddens, soos dié van Bagnères-de-Bigorre (Hautes-Pyrénées), Rennes-les-Bains (Aude) en Campagne (Aude), bevat meesal seleen en is nie baie warm nie.
Die kaasmakers van die westelike Pireneëgebied trek voordeel uit die kalkgesteente, wat deur 'n groot aantal grotte gekenmerk word. Hulle word dikwels gebruik om die rypwording van die plaaslike kaassoorte te bevorder.
Sedert die middel van die 19de eeu het die gletsers geleidelik begin terugtrek. Veral die Ossoue-gletser naby die berg Vignemale, wat vroeër 'n indrukwekkende natuurskouspel was, het duidelik afgesmelt. Tans bedek die gletsers in die Sentraal-Pireneë 'n oppervlak van sowat 500 hektaar. As gevolg van die globale verwarming sal hulle tot by die jaar 2100 verdwyn het.
Die sneeulyn in die Pireneë lê tussen 2 700 en 2 800 meter bo seevlak.
Die Pireneë is net soos die Alpe ryk aan endemiese spesies. Hier groei die enigste soort Dioscorea (yamwortel), Dioscorea pyrenaica, op slegs een hooggeleë plek in die sentrale Pireneë, en die monotipiese genus Xatardia op net een hooggeleë bergpas tussen die Val d'Eynes en Katalonië. Die genus, wat die meeste in die Pireneë voorkom, is die Saxifrages, waarvan verskeie spesies hier endemies is.
Ook die fauna van die Pireneë spog met 'n aantal voorbeelde van endemiese spesies. Die Pirenese desman of watermol (Galemys pyrenaicus) kom slegs in sommige bergstrome van die noordelike hange voor. Die enigste ander mol van hierdie genus is inheems aan die riviere van die Kaukasus-bergreeks in Suid-Rusland. Die Pirenese euproctus, wat nou verwant is aan die salamander, kom eweneens in hooggeleë bergstrome en mere voor. 'n Ander besonderheid van die Pireneë is die blinde insekte in die grotte van Ariège, waarvan die Anophthalmus en Adelops die bekendste genera is.
Die inheemse Spaanse steenbok (Capra pyrenaica) het in Januarie 2000 op 'n geheimsinnige manier uitgesterf, terwyl die Pirenese bruinbeer in die negentigerjare van die 20ste eeu byna uitgeroei is. Die beer is in 1996 weer in die gebied ingevoer, toe drie bere uit Slowenië hier vrygelaat is. Die bere het goed aangepas; tans is daar vyftien bruinbere in die sentrale gebied naby Fos. Slegs vier inheemse bere leef in die Aspevallei.
Die weivelde is geskik vir veeteelt, veral skape, bokke en melkkoeie. Die westelike Pireneë staan bekend vir hulle kaasmakerye, wat naas suiwer skaap- en bokkekaas ook gemengde soorte vervaardig. Die gewildste soorte is die Ossau-Iraty uit die Vallée d'Aspe, die Vallée d'Ossau en die aangrensdende Spaanse Pireneë, en die Pireneëkaas uit die Baskeland, 'n koeimelkkaas, wat met 'n swart waslaag oortrek word.
Die Franse en Spaanse voorgebergtes van die Pireneë is bekende wynboustreke. Die belangrikste Franse Pireneëwyne kom uit Jurançon en die Corbières, die historiese tuisland van die Kathare.
Os Perinés | Pirineji | Pirineus | Pyreneje | Pyrenæerne | Pyrenäen | Pyrenees | Püreneed | Pirineos | Pireneoj | Pirinioak | Pyrénées | Pirineos | 피레네 산맥 | Pirenei | Pirenei | הרי הפירינאים | Pyreneeën | ピレネー山脈 | Pyreneene | Pireneje | Pireneus | Пиренеи | Pyreneje | Пиринеји | Pyreneet | Pyrenéerna | Піренеї | 比利牛斯山