Parys (Frans: Paris) is die hoofstad en grootste stad van Frankryk met 2 110 694 inwoners (2005) en 'n oppervlakte van 105,4 km². 11 501 738 mense woon in die metropolitaanse gebied van Parys (1 Januarie 2005). In administratiewe opsig is Parys tegelykertyd 'n stad en 'n département. Parys is die hoofkwartier van internasionale organisasies soos die UNESCO, OECD en die Europese Ruimtevaartorganisasie ESA. Dit is die grootste Franstalige metropool en die kulturele sentrum van die Franstalige gemeenskappe (Frankofonie).
Parys, sy voorstede (La Petite Couronne - "Klein Randgebied") en die omgewing (La Grande Couronne - "Groot Randgebied") word L'Île-de-France genoem - dit is die historiese hartland van Frankryk en sy geestelike middelpunt. 800px-Paris-panorama.jpg Daar is geen ander stad wat dieselfde bevoorregte stelling in sy eie land en op sy kontinent inneem soos Parys nie - dit is die stad van die avantgarde, die stad wat steeds aan die voorpunt van belangrike ontwikkelings staan. Parys is geweldig invloedryk in Frankryk, Europa en die wêreld, wat mode, kuns, politiek, argitektuur, filosofie, musiek en filmkuns betref.
Die metropolitaanse gebied van Parys is ook die belangrikste finansiële en sakesentrum van Europa en die hoofkwartier van sowat 40 persent van die Franse maatskappye. Die bruto nasionale produk van hierdie gebied is groter as dié van Australië. Die voorstad La Défense in die département Hauts-de-Seine huisves die grootste sentrale besigheidsgebied van Europa en op een na ook die grootste Europese aandelebeurs.
| Parys | |
|---|---|
| Wapen_van_Parys.png | LocationParis.jpg |
| Land: | Vlag_van_Frankryk.png Frankryk |
| Région: | IDFflag.gif Île-de-France |
| Département: | Parys |
| Koördinate: | 48°51'N, 02°20'O |
| Oppervlakte: | 105,40 km² |
| Bevolking: | 2 110 694 (2005) |
| Bevolkingsdigtheid: | 20.025,6 / km² |
| Hoogte: | 33 m bo seespieël |
| Burgemeester: | Bertrand Delanoë (PS) |
Die stad lê in die sentrum van die Paryse Bekken en 'n gemiddelde 65 meter bo seevlak. Parys word deur groot bosgebiede omring, wat as ontspanningsgebiede vir die stedelike bevolking dien. Die hoogste berg binne die stadsgrense is die heuwel Butte Montmartre (129 meter). 'n Kabelkar, die Funiculaire de Montmartre, neem besoekers na die bergspits. Teen die hange van die Montmartre lê ook die enigste wingerd van die Franse hoofstad.
Die vroegste Keltiese nedersettings ontstaan op twee klein eilande in die rivier Seine wat deur die stad vloei. In daardie tyd staan die dorp bekend as Louk-teih (Plek van die Moeras) of Lutu-hezi (Waterwoning). Hoewel daar net 'n klompie houthutte opgerig word, is dit 'n plek wat danksy die strategies belangrike ligging deur die Romeine uitgebou word. In die Romeinse tydperk kry die stad die naam Lutetia Parisiorum (die Parisii is 'n Galliese stam wat in die streek leef). Die Gallo-Romeinse stad beslaan ongeveer die oppervlak van die huidige cité (ou stadskern) en word danksy die Heilige Geneviève (422-502) in 451 deur die Hunne - wat toe groot dele van Europa verwoes - gespaar. Onder die Frankiese bewind word Parys die hoofstad van die Neustriese Deelryk, in die Karolingiese tydperk egter weer afgeskaal tot hoofstad van die graafskap. Met die bekroning van hertog Hugo Capet as koning van Frankryk 987 herwin Parys sy status as hoofstad van die ryk. 800px-Louvre_by_night.jpg Parys ervaar groot welvaart uit sy ligging - belangrike handelsroetes kom hier bymekaar, en aan die begin van die 12de eeu word die stad aansienlik vergroot. Tydens die heerskappy van die konings Lodewyk VI en VII neem die stad meer en meer administratiewe funksies as hoofstad van Frankryk waar, en sy beroemde skole - soos byvoorbeeld die katedraalskool van Sainte-Geneviève - lok die vernaamste geleerdes en 'n groot aantal studente van verskillende Europese lande. Uit hierdie skole wat hulle hoofsaaklik aan die linkeroewer van die rivier Seine bevind, ontstaan in die twaalfde eeu die Universiteit van Parys. Die studente het gewoonlik Latyn met mekaar gepraat sodat hulle woonbuurt (wat vandag nog bestaan) die Quartier Latin genoem word.
Die stad groei ook in die 13de eeu nog sterk; die koninklike paleis word vergroot en die gotiese katedraal in die cité (historiese stadskern) word opgerig. Koning Filips II laat die stad, wat nou sowat 80 000 inwoners tel, versterk, en onder koning Lodewyk IX is dit uiteindelik een van die grootste en belangrikste stede in Europa. Die stad groei saam met die monargie, maar weens sy oorgrote politieke belang kry dit nooit die stadsreg nie. 'n Koninklike provost regeer Parys, en behalwe vir die gildes - by name die koopliede van die Seine - slaag die burgerskap nie daarin om 'n stadsraad of ander verteenwoordigende liggame te skep nie. Die Sonkoning Lodewyk XIV verkies om in die nabygeleë Versailles te bly, wat van daardie stad tussen 1643 en 1715 die koninklike hoofstad maak.
Die burgerlike verset teen die absolutistiese "Ancien Régime" bereik 'n hoogtepunt in die Franse Rewolusie. Op 14 Julie 1789 storm die burgers die gevangenis Bastille. Die Rewolusionêre probeer om die land van die adelsheerskappy, die geestelikheid en ook die Christelike "bygeloof" te bevry. Die nekslag wat die adel en kerk toegedien word, verseker dat Frankryk 'n sekulêre maatskappy van selfstandige burgers word. Gustave Caillebotte - La Place de l'Europe, temps de pluie.jpg Die rewolusionêre neigings van die Paryse bevolkings herleef in die Franko-Pruisiese Oorlog van 1870-1871 met die opstand van die Paryse Commune. Die beleg van Parys deur Pruisiese troepe en 'n hongersnood in die winter van 1870-1871 lei tot die Commune se oorgawe.
In die tagtigerjare van die 19de eeu beleef Parys weer 'n tydperk van bloeiende welvaart wat as La Belle Époque bekend staan. In hierdie tydperk word die bekendste baken van die stad, die Eiffeltoring, opgerig (1889). Parys organiseer ook die Olimpiese Spele van 1900. Paris Assemblee Nationale DSC00074.jpg Die Tweede Wêreldoorlog en die Duitse blitzkrieg bring die bitter jare van Duitse besetting. In die laat somer van 1944 word Parys deur Geallieerde Anglo-Franse Magte bevry.
Studenteproteste en stakings dwarsoor die land skud die Paryse regering in 1968. Anders as byvoorbeeld in Duitsland sluit die studente- en werkersbewegings in Frankryk saam, en die eskalerende betogings en proteste hou vir sommige destydse waarnemers selfs die gevaar van 'n burgeroorlog in.
Die sestigerjare is ook 'n tydperk van ekonomiese vooruitgang; die ontwikkeling van die wolkekrabberbuurt La Défense begin. Parys bevestig sy rol as wêreldstad in die volgende dekades met 'n reeks asemrowende argitektoniese projekte wat deur die Franse Staatspresidente bevorder word. President Georges Pompidou bevorder die bou van die Centre Culturel in die stadswyk Beaubourg; President Valéry Giscard d'Estaing die Musée de l'Orsay, die Institut du Monde arabe en die Cité des Sciences et de l'Industrie; terwyl die glaspiramide van die Louvre, die Opéra-Bastille, die Bibliothèque de France en die Grande Arche in La Défense onlosmaaklik met President François Mitterrand verbind is. GD-FR-Paris-La Défense.jpg In Desember 2005 stel die EPAD, die organisasie wat tans die ontwikkeling van La Défense beheer, planne bekend om 'n nuwe reeks van wolkekrabbers (waarvan een met 'n hoogte van sowat vierhonderd meter) en 'n nuwe skouburg met 5 000 sitplekke op te rig.
Die beslissing van die Internasionale Olimpiese Komitee in Julie 2005 om die Olimpiese Spele van die jaar 2012 eerder in Londen as in Parys te laat plaasvind word in die stad en dwarsoor Frankryk met ontsteltenis ter kennis geneem.
Parys se banlieues, 'n ring van voorstede wat onder meer as woonkwartiere vir minderbevoorregte bevolkingsgroepe soos Noord- en Swart-Afrikaanse immigrante dien, is in die herfs van 2005 weer eens die skouplek van gewelddadige onluste, wat vinnig oor die hele land versprei. Grootskaalse immigrasie van ongeskooldes, wat werkloosheid, armoede, woningnood en misdaad tot gevolg het, het 'n ernstige probleem vir Franse metropole geskep. Die opgehoopte frustrasie van veral jeugdiges word vergroot deur die feit dat hulle grotendeels Franse burgerskap het, maar desondanks nie in die Franse maatskappy geïntegreer is nie. Baie van hulle kan selfs nie die bus- of treinkaartjie vir 'n besoek aan die Paryse binnestad bekostig nie en staan dus geen kans op 'n werkgeleentheid nie.
Die onluste in 2005 breek uit na die dood van twee jeugdiges, wat valslik geglo het dat hulle deur polisiemanne agternagesit is, in 'n ongeluk. Gewelddadige betogings en opmerkings deur die Franse Minister van Binnelandse Sake, Nicolas Sarkozy, dat die voorstede "skoongemaak" moet word, gee die aanleiding tot die landswye onluste. 800px-Notre_Dame_Paris_Winter.jpg | Sainte-Chapelle-Rose-window.jpg
Die stad staan tradisioneel bekend vir sy groot verskeidenheid luukse artikels, wat van haute couture-mode en juweliersware tot reukwater en skoonheidspreparate strek. Ander belangrike nywerhede vervaardig chemiese produkte, elektroniese toerusting, motors en masjiene. Parys is ook die Franse sentrum van die uitgewers- en drukkerybedryf.
Die meeste ondernemings van die Franse dienstesektor, veral finansiële instellings soos banke, opereer eweneens vanuit die hoofstad. Die finansiële sektor met die multinasionale banke BNP Paribas, Société Générale en Crédit Agricole bied tans werkgeleenthede vir sowat 270 000 mense.
Sy rol as een van die belangrikste handelsmetropole in Europa verseker ook dat groot multinasionale ondernemings soos Sony, IBM, Hewlett Packard France, Siemens und Motorola hier hulle Franse hoofkwartiere het. 38 multinasionale ondernemings het hulle internasionale hoofkwartier in die stad. Parys is ook die setel van die Europese beurs Euronext.
Parys trek as een van die gastronomiese hoofstede van die wêreld voordeel uit sy ligging in die hart van een van die vrugbaarste landboustreke in Europa. Landbou vorm dan ook eeue lank die ekonomiese basis van die omgewing en verskaf die voedsel vir 'n vinnig groeiende bevolking.
Ondanks die feit dat Parys een van die welvarendste gebiede in die Europese Unie is, bly die werkloosheidsyfer met sowat tien persent (7,5 persent in die metropolitaanse gebied) nog steeds sorgwekkend. Na ramings is daar meer as 50 000 dakloses wat skuiling in die metrostasies en ander plekke moet vind.
Parys en sy onmiddellike omgewing, die Île-de-France, behoort met 'n bruto geografiese produk (BGP) van €449 miljard (VSA-$507 miljard) in die jaar 2003 tot die enjins van die wêreldekonomie en sou as 'n onafhanklike staat as die vyftiende grootste ekonomie ter wêreld gelys word. 800px-Esplanade-de-la-defense.jpg Met slegs 18,7 persent van Frankryk en 2,5 persent van die Europese Unie se totale bevolking genereer die hoofstad en sy omgewing naastenby dertig persent van Frankryk en 4,5 persent van die Europese Unie se BGP. In Noord-Amerika is daar net twee metropolitaanse gebiede met 'n groter BGP as Parys, New York Stad en Los Angeles, terwyl in Asië slegs Tokio en Osaka meer dienste en goedere produseer as die Franse hoofstadgewes Île-de-France.
In teenstelling met wêreldstede soos Londen en New York, wat hulle in die wêreldekonomie op die verskaffing van finansiële dienste gespesialiseer het, beskik Parys nog oor 'n relatief sterk nywerheidsbasis. Met sy 650 000 werknemers is die Paryse nywerhede die belangrikste in Frankryk, nog voor die gebied Rhône-Alpes met sy metropool Lyon.
Desondanks bly die verskaffing van dienste met toegevoegde waarde die belangrikste groeisektor van die Paryse ekonomie. Ten spyte van Frankryk en Parys se gewildheid as die vernaamste toeristebestemmings ter wêreld verskaf die toerismebedryf minder as vier persent van die werkgeleenthede.
Jaarliks besoek 28 miljoen toeriste die Franse hoofstad, en Parys is nou een van die gewildste metropole vir internasionale konferensies met jaarliks meer as 1 000 byeenkomste, waarvan 300 internasionale vergaderings en 300 handelskoue is. Sakereise verskaf 'n jaarlikse inkomste van 3,5 miljard Euro aan die stad, terwyl die toerismebedryf meer as 9,9 miljard Euro per jaar verdien.
Die ses stasies van die Franse Spoorweë (Société nationale des Chemins de Fer Français, SNCF) is Gare du Nord, Gare de l'Est, Gare de Lyon, Gare d'Austerlitz, Gare Montparnasse en Gare Saint-Lazare. Openbare vervoerdienste word deur die RATP verskaf (Métro, busse, tramway en RER). Die stadstreine van die RER (Réseau Express Régional) beskik oor vyf linies wat tussen 5:30 en 0:30 uur ry. Die ondergrondse Métro beskik oor 15 linies en sowat 300 stasies in Parys en die voorstede; die Métrotreine ry tussen 5:30 en 0:30 uur. Busse ry tussen 5:30 en 20:30 uur.
Die Paryse Métropolitain is deur die ingenieur, Fulgence Bienvenue, ontwerp, maar dit is die kunstenaars wat die stasies tot kunswerke veral in die Art Déco-styl omskep. Vandag is daar nog sowat 90 van hierdie Art déco-pawiljoene.
Die Métro, die Paryse moltrein, met veertien linies en 'n netwerk van sowat 200 kilometer, is die belangrikste vervoermiddel in die stad met daagliks sowat vyf miljoen passasiers. Tegelykertyd is dit 'n soort Parys in 'n neutedop. In spitstye wemel dit van duisende beroepsmense, maar vir die grootste deel van die dag is dit die wêreld van die dakloses (les clochards of les sans-abri), die musikante en kleinhandelaars.
Paris (Stadt) | París | باريس | París | Париж | París | Paříž | Paris | Paris | Paris | Παρίσι | Paris | Parizo | París | Pariis | Paris | Pariisi | Paris | Páras | París - Paris | פריז | Paris | Párizs | Paris | Paris | Paris | Parigi | パリ | პარიზი | ಪ್ಯಾರಿಸ್ | 파리 시 | Parîs | Paris | Lutetia | Paräis | Paries | Paryžius | Parīze | Paris | Paris | Paris | Parijs | Paris | Paris | París | Paryż | Paris | Paris | Paris | Париж | Paris | Pariggi | Paris | Pariz | Париз | Paris | பாரிஸ் | ปารีส | Paris | Paris | Париж | Paris | 巴黎