Isotope is vorme van 'n element waarvan die kerne dieselfde atoomgetal -- die aantal protone in die kern -- maar verskillende atoommassas het want hulle bevat verskillende aantal neutrone. Díe verskil het baie min gevolge vir die chemiese eienskappe.
Die woord isotoop kom van die Grieks iso- = gelyk, en topos = plek, dus op dieselfde plek en dui op die feit dat dat alle isotope op dieselfde plek op die periodieke tabel aangetoon word.
Saam vorm die isotope van die elemente die reeks nukliede. 'n Nuklied is 'n spesifieke soort atoomkern of meer algemeen gesproke 'n versameling van protone en neutrone. Streng tegnies gesproke is dit meer korrek om te sê dat 'n element soos fluoor bestaan uit 'n stabiele nuklied eerder as om te sê dat dat dit 'n stabiele isotoop het.
Isotope (nukliede) word in wetenskaplike nomenklatuur gespesifiseer deur die naam van die spesifieke element gevolg deur 'n koppelteken en die aantal nukleone (d.w.s. protone en neutrone) in die atoomkern (bv., helium-3, koolstof-12, koolstof-14, yster-57, uraan-238. In simboliese vorm word die aantal nukleone as 'n boskrif voorvoegsel van die chemiese simbool (bv. 3He, 12C, 14C, 57Fe, 238U).
Hierde massaverskynsel is meer opsigtelik by protium (1H) teenoor deuterium (2H), omdat deuterium se massa dubbel dié van protium is. Vir swaarder elemente is die relatiewe massaverskil tussen isotope veel kleiner en is die massa-effek gewoonlik nalaatbaar klein.
Op soortgelyke wyse sal twee molekules wat slegs verskil ten opsigte van die isotopiese aard van die atome waaruit hulle bestaan (isotopoloë) byna dieselfde elektronstruktuur hê en daarom soortgelyke fisiese en chemiese eienskappe hê. Die vibrasie modusse van 'n molekule word deur sy vorm en die massa van die atome waaruit dit saamgestel word, bepaal. Isotopoloë sal gevolglik verskillende stelle vibrasie modusse hê. Aangesien vibrasie modusse 'n molekule toelaat om fotone met ooreenstemmende energieë te absorbeer, verskil isotopoloë se optiese eienskappe in die infrarooi-gebied.
Alhoewel isotope byna identiese elktroniese en chemiese gedrag toon, verskil hul kerngedrag dramaties. Atoomkerne bestaan uit protone en neutrone wat saamgebind word deur sterk kernkragte. Omdat protone positief gelaai is, stoot hulle mekaar af. Neutrone, wat elektries neutraal is, laat 'n mate van skeiding tussen die positief gelaaide protone toe wat die elektrostatiese afstoting deur die protone verminder en stabiliseer sodoende die kern. Om hierdie rede is neutrone noodsaaklik om twee of meer protone in 'n kern te bind. Soos die aantal protone toeneem word meer neutrone benodig om 'n stabiele kern te vorm; Die neutron/proton verhouding van 3He is 1/2, die neutron/proton verhouding van 238U is groter as 'n 3/2. As te veel of te min neutrone teenwoordig is, raak die kern onstabiel en is dan onderhewig aan kernverval.
Volgens aanvaarde kosmologie het bykans alle nukliedes buiten die isotope van waterstof en helium in sterre en supernovas ontstaan. Hulle respektiewelike verspreidings ontstaan as gevolg van die hoeveelhede wat tydens die kernprosesse in die sterre gevorm word, die manier waarop hulle deur die heelal versprei en die tempo waarteen hulle verval.
Na die aanvanklike versmelting van die sonnestelsel is isotope herversprei volgens hulle massas. Die isotoopsamestelling van elemente is verskillende op die verskeie planete, wat dit moontlik maak om die oorsprong van meteoriet te bepaal.
نظائر عناصر كيميائية | Изотоп | Izotop | Isòtop | Izotop | Isotop | Isotop | Isotop | Isotope | Izotopo | Isótopo | Isotoop | ایزوتوپ | Isotooppi | Isotope | Isótopo | איזוטופ | Izotóp | Isotop | Samsæta | Isotopo | 同位体 | 동위 원소 | Izotopas | Изотоп | Isotop | Isotoop | Isotop | Isotop | Izotop | Isótopo | Izotop | Изотопы | Isotope | Izotop | Izotop | Изотоп | Isotop | ไอโซโทป | Isotope | İzotop | Ізотоп | Đồng vị | 同位素