article Related Topics:
Hamburger,_Michael :: Hamburger_SV :: Hamburg_Sea_Devils :: Hamburg :: Hamburg_Township :: Hamburger,_Aaron
 

Duitsland

Hamburg
Flag of Hamburg.svg Germany Laender Hamburg.png
Deelstaat: Flag of Hamburg.svg Hamburg
Stigting: 810
Koördinate: 53° 33' N, 10° 0' O
Oppervlakte: 755,16 vk. km
Bevolking: 1 736 752 (31 Maart 2005)
Bevolkingsdigtheid: 2 300 / vk. km
Hoogte: 3 m bo seespieël
Burgemeester: Ole von Beust (CDU)
Hamburg is die tweede grootste stad in Duitsland na Berlyn en sy belangrikste hawe, wat op een na ook die grootste in Europa en die negende grootste ter wêreld is. Hamburg is die sesde grootste stad in die Europese Unie.

Die amptelike naam van die stad, Freie und Hansestadt Hamburg ("Vrye en Hansestad Hamburg") verwys na sy lidmaatskap in die middeleeuse Hanseatiese Bond van stede en sy besondere status as stadstaat en een van Duitsland se sestien deelstate (Bundesländer). Hamburg-alster-dusk.jpg Die stadstaat en administratiewe gebied van Hamburg het 'n oppervlakte van 750 vierkante kilometer en 1,8 miljoen inwoners, terwyl 'n bykomende 750 000 mense in die voorstede woon. Die metropolitaanse gebied van Hamburg (Metropolregion Hamburg) sluit gebiede van die aangrensende deelstate Sleeswyk-Holstein en Nedersakse in, met 'n oppervlakte van 18 100 vierkante kilometer en sowat vier miljoen inwoners.

Die stad is een van die welvarendste in Duitsland en toon die vinnigste bevolkingsgroei van alle Duitse metropole.

Hamburg lê teen drie riviere, die Alster, Bille en Elbe. Eersgenoemde vorm twee kunsmatige mere, die Binne- en Buite-Alster (Binnenalster en Außenalster), wat in die hart van die middestad lê.

Drie klein eilande in die Noordsee, sowat 100 kilometer noordwes van Hamburg, maak eweneens deel uit van die stadstaat: Neuwerk, Scharhörn en Nigehörn.

Geografie


Hamburg lê in die noorde van Duitsland, by die monding van die Alster- en Billeriviere in die Elbe, wat 110 kilometer verder noordwes in die Noordsee uitmond. Die natuurlike getyehawe van die stad strek oor die hele breedte van die Elbe en lê hoofsaaklik aan die suidoewer van die Norderelbe, teenoor die stadswyke St. Pauli en Altona. Die diepseehawe se houerterminale behoort tot die grootstes wêreldwyd. Die twee oewers is deur brûe in die ooste en die Ou en Nuwe Elbe-tonnel met mekaar verbind. Die gebied suid en noord van die rivier is geest, hoër geleë land, wat tydens die Ystydperk deur gletsers gevorm is. Hawehowe in Hamburg.jpg Dyke langs die Elbe beskerm die stad teen vloedwater, wat in vroeër tye groot dele van Hamburg herhaaldelik oorstroom het. Die Alsterrivier is in die binnestad gestu en vorm nou 'n meer, wat in twee dele gesplits is - die Binne- en Buite-Alster. Talle kanale lei water na die mere, wat deur uitgestrekte parke omring word. Daar is altesaam 2 300 brûe in Hamburg, wat die kanale en klein riviere oorspan. Die stad beskik oor die grootste aantal brûe in Europa (meer as Venesië met 400 en Amsterdam met 1 200 altesame). Die huidige grense van die stad is ingevolge die Wet oor die Vorming van Groot-Hamburg van 1 April 1938 vasgelê. Hamburg is na Berlyn volgens oppervlakte en bevolking die tweede grootste stad van Duitsland.

Klimaat


Danksy die maritieme invloede het Hamburg in vergelyking met die oostelike agterland 'n gematigde, vogtige klimaat. Julie is die warmste maand met 'n gemiddelde temperatuur van 17,0°C, januarie die koudste met 'n gemiddelde temperatuur van 0,0°C. Warm somerdae met meer as 25°C tree nou gereeld op. Die gemiddelde jaarlikse reënval is 714 millimeter, en op sowat 52 dae van die jaar lê misbanke oor die stad. Stormagtige weer tree veral in die winter op.

Geskiedenis


Die naam Hamburg is afgelei van die eerste permanente gebou, die Hamma-burg, wat Karel die Grote in die tydperk tussen 808 en 810 as 'n militêre voorpos teen Slawiese invalle laat oprig.

In 834 word Hamburg die setel van biskop Ansgar, die "Apostel van die Noorde". 'n Vloot van seshonderd Wiking-skepe val Hamburg in die jaar 845 en verwoes die dorp, wat teen hierdie tyd sowat vyfhonderd inwoners tel. Hamburg is vanaf die 11de eeu 'n belangrike sentrum vir die handel met die Skandinawiese lande en die basis van sendelinge, wat met die kerstening van Noord-Europa begin.

In 1030 word die stad 'n tweede keer deur die Poolse koning Mieszko II aan die brand gesteek. Na twee verdere aanvalle deur Slawiese krygers uit die ooste in 1066 en 1072 is die biskop se setel na Bremen verskuif. Hamburger Rathaus von St-Petri.jpg | Hamburg.Lombardsbruecke.wmt.jpg Keiser Frederik I Barbarossa waarborg in 'n oktrooi, wat in 1189 vervat is, Hamburg se vrye toegang tot die Neder-Elbe. Danksy die nabyheid van die belangrikste handelsroetes van die Noord- en Oossee groei Hamburg vinnig tot een van die belangrikste hawens van Noord-Europa, en sy verbond met die hawestad Lübeck aan die Oossee in 1241 word as die oorsprong van die Hanseatiese Bond van handelstede beskou. Onlangse navorsing het die keiser se dokument, wat nog steeds in 'n stedelike museum vertoon word, as 'n vervalsing uit die jaar 1265 ontmasker - Hamburg het dus nie werklik stadstatus gekry nie.

In die 1520-erjare aanvaar die stadsregering die Lutheraanse variant van die Protestantse geloof. Hamburg word 'n toevlugsoord vir godsdiensvlugtelinge uit Nederland en Frankryk.

Engeland en Nederland is sedert die einde van die 16de eeu Hamburg se belangrikste handelsvennote, en danksy die seehandel met Wes-Europa word Hamburg die vernaamste Duitse hawestad.

In 1678 word die eerste openbare operateater van Duitsland in Hamburg geopen.

Tydens die 18de eeu kom die stad 'n tyd lank onder Deense heerskappy, maar bly steeds 'n deel van die Heilige Romeinse Ryk. In 1768 kry dit selfs die status van 'n Vrye Keiserlike Stad. Hamburg-Stadtteilkarte.jpg | Hamburg Nikolaifleet 01 KMJ.jpg In die tydperk tusen 1810 en 1814 annekseer Frankryk die stad, wat gedurende Napoléon Bonaparte se laaste veldtog in Duitsland erg verwoes is. Desondanks begin Hamburg in die tweede helfte van die 19de eeu veral ingevolge die uitbreiding van die Atlantiese handel vinnig groei. Sy bevolkingsyfer neem selfs viervoudig toe en bereik 800 000.

Die Hagenbeck'sche Zoo, wat in 1907 gestig is, is in sy tyd die modernste dieretuin ter wêreld.

Na twee groot brande in die jare 1284 en 1842 word Hamburg vir 'n derde keer tydens die bomaanvalle van die Tweede Wêreldoorlog volledig verwoes. As 'n vergelding vir die Duitse aanvalle op Coventry bom die Britse Royal Air Force Hamburg op 16 November 1940. Operation Gomorrah, 'n reeks gealliëerde bomaanvalle tussen 24 Julie en 2 Augustus 1942, verniel die binnestad in 'n vuurstorm, waarin 42 000 mense dood is. Altesaam sterf meer as 50 000 burgers as gevolg van bomaanvalle, en Hamburg beskik deesdae nie meer oor geboue uit die tyd voor 1842 nie, terwyl net 'n klein aantal uit die tydperk voor 1945 bewaar is. Die uitgebrande toring van die Nikolai-kerk is as gedenkmonument bewaar.

In die jaar 1962 is die laerliggende dele van Hamburg deur 'n vloedramp getref, waarin meer as driehonderd mense sterf en duisende dakloos gelaat is.

Teen die middel van die sestigerjare styg die inwonerstal tot 'n rekordsyfer van 1,85 miljoen. Tans groei die voorstede die vinnigste, en daar word verwag dat Hamburg in die nabye toekoms 'n bevolking van meer as twee miljoen mense sal hê.

Ekonomie


800px-HamburgerHafenLuftbild.jpg Eeue lank bly die hawe Hamburg se belangrikste ekonomiese basis, en dit is nog steeds die belangrikste bedryf wat meer as 120 000 werkgeleenthede in die stad en 'n bykomstige 100 000 elders in Duitsland skep. Die belastinginkomste uit die hawebedryf beloop in die jaar 2005 sowat 600 miljoen Euro. Die tweede grootste Europese hawe (en negende grootste wêreldwyd) met 'n oppervlakte van sowat veertig vierkante kilometer hanteer in 2005 20 000 aankomste en vertrekke van groot vragskepe, wat gelykstaan aan agt miljoen standaard-houereenhede en 115 miljoen ton goedere. Na raming sal daar teen die jaar 2015 meer as 18 miljoen houers gehanteer word. Sowat dertig persent van die totale Europese houervrag kom in Hamburg aan, terwyl die Nederlandse hawe Rotterdam se aandeel van meer as veertig persent tot 33 persent in 2005 gedaal het. Freedom-of-the-Seas--in-Hamburg.jpg Die stad het lankal die grootste Europese vervoersentrum vir die handel met die Verre Ooste geword. Die Duitse nywerhede voer baie onderdele vir die plaaslike vervaardiging uit oorsese lande in, terwyl vervaardigde goedere vanuit Hamburg na oorsese bestemmings uitgevoer word. Hamburg se posisie as internasionale handelstad verklaar ook die groot aantal buitelandse konsulate wat hier gevestig is.

Ander belangrike nywerhede is lug- en ruimtevaart (een van Airbus Industries se twee fabrieke is in Hamburg gevestig), die chemiese en farmaseutiese nywerheid en die mediabedryf. Sowat die helfte van Duitsland se nasionale nuusblaaie en tydskrifte word hier uitgegee. Daarnaas het ook 'n aantal musieketikette, waaronder Warner Music Germany, en internet-ondernemings soos America Online Duitsland en Google Germany hulle hoofkwartiere in Hamburg.

Swaar nywerhede sluit aluminium, staal en Europa se grootste koperaanleg in. Daarnaas is daar 'n aantal groot skeepswerwe, soos die bekende Blohm + Voss.

Demografie


Hamburg Hafencity Sandtorkai.jpg

Bevolking

In die 17de eeu is Hamburg dekades lank die grootste stad in Duitsland, aangesien die stad die verwoestings van die Dertigjarige Oorlog gespaar is.

In die jaar 1964 groei Hamburg se bevolking tot 'n rekordsyfer van naastenby 1,9 miljoen. Die uitbreiding van die voorstede laat die inwonerstal in 1986 daal tot sowat 1,6 miljoen. Maar intussen begin die stad danksy die ekonomiese groei weer mense lok. Daar word verwag dat Hamburg as die vinnigste groeiende Duitse metropool in die nabye toekoms twee miljoen inwoners sal hê.

Hamburg beskik oor 'n multikulturele bevolking; 14,9 persent of 255 070 mense is van buitelandse afkoms. Die grootste groepe buitelanders is Turke (59 600 mense; 'n bykomende 27 000 het die Duitse burgerskap), Serwe en Montenegriners (18 650 mense) en Pole (17 410 mense; naastenby 100 000 Pole is ingeburger).

Van die stad se bevolking is 16,1 persent jonger as 18 jaar, 60 persent tussen 18 en 60 jaar oud, en 23,9 persent ouer as 60 jaar.

Taal

Nog in die 19de eeu is Nederduits die algemene omgangstaal van Hamburg. Sedertdien is die tradisionele "Platduitse" dialek deur die Hoogduitse skryf- en spreektaal teruggedring. Desondanks het baie Hamburgers 'n kennis van Nederduits. Die taal word nog steeds gepraat en orals in Noord-Duitsland met trots bewaar. Die stad se eie omgangstaal, Missingsch, is sterk deur Nederduits beïnvloed.

Met die Ohnsorg-Theater beskik Hamburg oor 'n kulturele instelling, wat toneelstukke in Nederduits aanbied en danksy sy Hoogduitse opvoerings op televisie al dekades lank as een van die gewildste nasionale teaters bekend staan.

Met die immigrasie van die sestigerjarige kry talle stadswyke van Hamburg 'n internasionale karakter, met Portugese buurte naby die hawe en Turkse en Kurdiese buurte in Altona en Wilhelmsburg.

Duitsland

Hamburg | هامبورغ | Хамбург | Hamburg | Estat d'Hamburg | Hamburk | Hamborg | Hamburg | Hamburg | Hamburgo | Hamburgo | هامبورگ (آلمان) | Hampuri | Hambourg | המבורג | Hamburg | Hamburg (tartomány) | Hamburg | Amburgo | ハンブルク | ჰამბურგი (მხარე) | 함부르크 | Hamburg | Hamburgum | Hamburga | Hamborg | Hamburg | Hamburg | Hamburg | Hamburg | Hamburgo | Гамбург | Hamburg | Hamburg | Hamburgu | Hamburg | 汉堡市

 

This article is licensed under the GNU Free Documentation License. It uses material from the "Hamburg".

Home Pageartsbusinesscomputersgameshealthhospitalshomekids & teensnewsphysiciansrecreationreferenceregionalscienceshoppingsocietysportsworld