Paris Louvre Pyramid Sunset.jpg Die Franse Republiek (Frans: République française) is 'n sentralistiese, demokratiese land in Wes-Europa, begrens deur België, Luxemburg, Duitsland, Switserland, Italië, Monaco, Andorra, en Spanje. Dit is 'n stigingslid en volgens sy oppervlak tans die grootste land van die Europese Unie.
Naas die metropolitaanse (Europese) gebied van Frankryk is daar oorsese gebiede in die Karibiese See (onder meer 'n gedeelte van die eiland Saint-Martin), Suid-Amerika (Frans-Guyana), Noord-Amerika (Saint-Pierre et Miquelon), in die Indiese Oseaan en in Oseanië.
Die naam Frankryk is afgelei van die Germaanse volk van die Franke, wat die gebied na die einde van die Romeinse Ryk verower.
Die land, wat meer as dubbel so groot is soos die Verenigde Koninkryk, beleef na die Tweede Wêreldoorlog 'n vinnige groei van sy stedelike gebiede. Desondanks is die grootste deel van die land plattelandse gebiede, en die landbousektor speel tradisioneel 'n baie belangrike rol in die binnelandse politiek van Frankryk.
Die land se lang en ryk geskiedenis bly lewendig in sy Romeinse ruïnes, middeleeuse katedrale en stede. Die erfenis van die tydperk voor die Franse Rewolusie van 1789 sluit talle 18de eeuse kastele (châteaux) in. Die land is met jaarliks meer as 75 miljoen besoekers die belangrikste toeristebestemming ter wêreld.
Hoofartikel: Geografie van Frankryk Lac-du-der-hafen3.jpg Terwyl die grootste deel van Frankryk se staatsgebied in Wes-Europa lê, is daar wyd verspreide Franse gebiede en besittings in Noord-Amerika, die Karibiese See, Suid-Amerika, die westelike en suidelike Indiese Oseaan, die noordelike en suidelike Stille Oseaan en Antarktika.
Wanneer daar na die Europese gebied van Frankryk verwys word (insluitend Korsika), word dikwels die term die metropolitaanse Frankryk gebruik (afgelei van Frans la France métropolitaine, of net la Métropole), in teenstelling met die oorsese départements en gebiede, wat as die oorsese Frankryk (la France d'outre-mer, of kort les DOM-TOM, 'n afkorting van die Franse départements d'outre-mer - territoires d'outre-mer) bekend staan.
Die metropolitaanse Frankryk, wat danksy sy vorm dikwels ook l'Hexagone (die heksagoon) genoem word, het 'n oppervlak van meer as 'n halfmiljoen vierkante kilometer, wat in die noorde en weste deur kusvlaktes en heuwels gekenmerk word. Meer as die helfte van die oppervlak lê minder as 250 meter bo seevlak. Die res van die land is bergagtig, met die Sentraalmassief (Massif Central) in die suidelike middel van die land, die Pireneë in die suidweste en die Alpe in die suidooste. Frankryk se hoogste berg, die Mont Blanc, is tegelykertyd ook die hoogste in Europa met 4 808 meter. Die Bretonse Massief sluit 'n gedeelte van Normandië in en strek in suidwaartse rigting tot by La Rochelle. Ander berggebiede is die Vogese-bergreeks in Elsas en die Franse gedeelte van die Ardenne.
Die Sentraalmassief, wat sowat 'n sesde van Frankryk se landoppervlakte tussen die Rhône-Saônevallei en die Akwitaanse bekken beslaan, is deur vulkaniese aktiwiteite sowat tien tot dertig miljoen jare gelede gevorm. Die hoogste bergspitse is die Puy de Sancy (1 886 meter) en die Plomb du Cantal (1 858 meter). Die oorheersende kalksteen maak die Sentraalmassief minder geskik vir landbouaktiwiteite. Puy de Pariou 2001-06-22.jpg Tussen die berggebiede lê uitgestrekte rivierbekkens soos dié van die Loire-, Rhône-, Garonne- en Seineriviere. Die groot riviere is deur kanale met mekaar verbind.
Korsika, die grootste Franse eiland in die Middellandse See met 'n oppervlak van 8 680 vierkante kilometer, word veral deur bergagtige landskapsvorme met gereelde sneeuval in die winter gekenmerk. Meer as veertig bergspitse bereik hoogtes van meer as 2 000 meter. Net sowat 'n kwart van die eiland is geskik om as weivelde vir skape en bokke te dien. Naas die bebosde gebiede, wat ook 'n kwart van Korsika se oppervlak beslaan, is daar net sowat twee persent landbougebiede in die valleie, langs die kus en op geterrasseerde berghange.
Frankryk het met uitsondering van die noordooste slegs natuurlike grense, waarvan die helfte deur die Ryn, die Alpe en die Pireneë gevorm word. Die ander helfte van die land se sowat 5 500 kilometer lange grenslyn word deur die kuste van die Atlantiese Oseaan en die Middellandse See gevorm.
Danksy die oorsese départements en gebiede, wat wêreldwyd verspreid is, beskik Frankryk oor die tweede grootste Eksklusiewe Ekonomiese Sone (EES) na dié van die Verenigde State, met 'n totale oppervlak van 11 035 000 vierkante kilometer.
Die grense van moderne Frankryk is byna dieselfde as die grense van die ou gebied van Gallië, wat bewoon was deur die Galliërs (Keltiese mense). Gallië is ingeneem deur die Romeine in die eerste eeu voor Christus, en die Galliërs het uiteindelik die Romeinse taal en kultuur aangeneem.
In die 14de eeu ontwikkel Frankryk met sy twintig miljoen inwoners (in vergelyking met Duitsland se veertien en Engeland se vier miljoen) tot die magtigste nasie in Europa.
Die regering onder die leiding van die Eerste Minister bepaal die beleid van die nasie.
Die parlement bestaan uit twee kamers, die Nasionale Vergadering (Assemblée Nationale) met 577 vyfjaarliks direk verkose afgevaardigdes en die Senaat (Sénat) met 331 lede, wat indirek verkies word. Die parlement kontroleer die regering en beraadslaag en besluit nasionale wette.
Die oorsese gebiede word deur 22 afgevaardigdes in die Nasionale Vergadering en 14 in die Senaat verteenwoordig. 'n Bykomende 12 senatore word deur Franse burgers in die buiteland verkies.
Frankryk is 'n permanente lid van die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad en beskik oor die vetoreg. Die buitelandse beleid van die land konsentreer op die noue bande met Duitsland binne die strukture van die Europese Unie en sy belangrike betrekkinge met voormalige kolonies in Afrika. In baie Afrikalande tree die Franse regering met 'n soort ordende gesag op.
Frankryk staan skepties teenoor die Verenigde State se beleid as supermoondheid en maak steeds eie voorstelle in verband met internasionale vraagstukke.
Onder die leiding van de Gaulle ontwikkel Frankryk vanaf 1960 sy eie kernwapens. As 'n kernmoondheid steun die land vanaf 1965 met sy Force de Frappe op vyftig vliegtuie met kernwapens, en in 1968 beskik die Franse weermag reeds oor agttien lanseerplatforms vir middelafstandmissiele, wat in die jare 1970 en 1971 met kernmissiele toegerus is.
In die sewentigerjare is die Force de Frappe versterk deur duikbote met sestien middelafstandmissiele.
Frankryk het die militêre afdeling van die NAVO in 1968 verlaat, maar gaan steeds voort om 'n aktiewe rol by die politiese aktiwiteite van die organisasie speel.
Diensplig is gestaak, en die land beskik tans oor 'n professionele weermag van sowat 300 000 soldate.
Ekonomie van Frankryk | |
Frankryk is 'n lid van die G8-groep van leidende nywerheidslande en is in die jaar 2004 die vyfde grootste ekonomie ter wêreld, na die Verenigde State, Japan, Duitsland en die Verenigde Koninkryk.
Die hoofsaalike uitvoergoedere is motors, vliegtuie, farmaseutiese produkte, elektroniese toerusting en wyn. Volgens die OECD is Frankryk in 2004 die vyfde grootste uitvoerder van vervaardigde produkte, na die Verenigde State, Duitsland, Japan en die Volksrepubliek van Sjina. Tegelykertyd is dit die vierde grootste invoerder van vervaardigde goedere (na die Verenigde State, Duitsland en die Volksrepubliek van Sjina).
Die statistieke van die OECD toon in 2003 dat Frankryk die lidstaat met die meeste direkte buitelandse beleggings is (met die uitsondering van Luxemburg, waar buitelandse beleggings grotendeels in die vorm van geldtransaksies van internasionale banke met 'n setel in Luxemburg gemaak word). Met buitelandse beleggings ter waarde van 47 miljard VSA-dollar oortref Frankryk selfs die Verenigde State met 39,9 miljard VSA-dollar, Duitsland (12,9 miljard VSA-dollar) en Japan (6,3 miljard VSA-dollar). La Défense1.jpg Die vernaamste sektore van die Franse ekonomie is die motornywerheid, ruimte- en lugvaartnywerheid, masjienbou, chemiese nywerheid en die inligtings- en kommunikasietegnologie. Die metropolitaanse gebied van Parys is die grootste nywerheids- en handelsentrum. Ander belangrike sentrums is Lyon, Marseille en Lille.
Landbou en toerisme is eweneens hoogs ontwikkel. Sedert 1969 het die landbousektor 'n positiewe handelbalans, en Frankryk het tot die tweede grootste uitvoerder van landbouprodukte op die wêreldmark ontwikkel, met wyn, dranke, graan, suiwelprodukte en suiker as sy vernaamste uitvoergoedere. Die land produseer jaarliks 55 miljoen hektoliter wyn en is met meer as 75 miljoen buitelandse besoekers in 2003 die belangrikste toeristebestemming ter wêreld, nog voor Spanje (52,5 miljoen toeriste) en die VSA (40,4 miljoen toeriste). Frankryk lok met sy kulturele erfenis in historiese stede soos Parys, lang strande en gesofistikeerde vakansieoorde langs sy kuslyn, ski-oorde in die Sentraalmassief, die Alpe en die Pireneë en landelike gebiede wat met hulle natuurskoon en rustigheid bekoor en gewild is by ekotoeriste.
Frankryk het by nog 11 ander EU lede aangesluit om die Euro te gebruik vanaf 1 Januarie 1999. Die Euromunte en -banknote het die Franse Franc totaal vervang in 2002.
Volgens 'n amptelike skatting is die bevolking van die metropolitaanse Frankryk en die oorsese gebiede op 1 Januarie 2004 61,9 miljoen mense. Die bevolkingsdigtheid is 111 mense per vierkante kilometer. Die Seine.jpg Daar is 73 stede wat saam met hulle voorstede 'n inwonertal van meer as 100 000 het. Die grootste stedelike gebiede is Parys (11,2 miljoen inwoners), Lyon (1,7 miljoen inwoners), Marseille (1,5 miljoen inwoners), Lille (1,2 miljoen inwoners) en Toulouse (1,1 miljoen inwoners).
Frankryk het na Duitsland die tweede grootste bevolking van die Europese Unie. Anders as in Duitsland is daar 'n aansienlike natuurlike bevolkingsgroei, met 792 600 geboortes teenoor 560 300 sterfgevalle in 2003. Die geboortekoers bedra in dié jaar 1,9. In 2003 is 280 300 huwelike gesluit.
Op 1 Januarie 2004 is 25,3 persent van die Franse jonger as twintig en 16,2 persent ouer as 65 jaar. Die gemiddelde lewensverwagting van vroue is 83,8 jaar, die van mans 76,7 jaar.
Die amptelike taal in die metropolitaanse Frankryk en die oorsese gebiede is Frans, tog praat die grootste deel van die Franse bevolking 'n plaaslike dialek. Naas Frans bestaan daar 'n aantal inheemse tale soos (Baskies, Bretons, Katalaans, Korsikaans, Nederlands (Vlaams), Duits (Elsassies), Oksitaans), maar die Franse regering en skoolstelsel het die gebruik van hierdie tale sterk afgeraai tot redelik onlangs.
Frankryk is 'n laisistiese republiek waar staat en godsdienstige gemeenskappe streng van mekar geskei word. Die staat hou geen statistiek oor die gelowe van sy burgers nie, en alle gegewens berus op skattings of inligting wat deur die gemeenskappe self verskaf word. Die 2003 CIA World Factbook lys die gelowe van Frankryk as : Katoliek 83-88%, Protestants 2%, Joods 1%, Moslem (Noord-Afrikaanse werkers) 5-10%, ongebonde 4%.
Volgens skattings, wat op demoskopiese navorsing baseer, is daar 3 miljoen Moslems, 1 miljoen Protestante, 600 000 Boeddhiste, 530 000 Jode en 150 000 ortodokse Christene.
Die départements word verder verdeel in 342 arrondissemente. Daar is 36 500 stede en ander munisipaliteite.
Frankryk handhaaf ook beheer oor 'n aantal klein eilande in die Indiese Oseaan en die Stille Oseaan, insluitende Bassas da India, Clippertoneiland, Europa-eiland, Glorioso-eilande, Juan de Nova-eiland, Tromelineiland.
Voor die Tweede Wêreldoorlog was rugby die gewildste sport in Frankryk, maar is sedertdien deur sokker verdring. Dit is nogtans die mees popuêre sport in die suidelike geweste van die land.
Ander gewilde sportsoorte is fietsren (veral in Julie, wanneer die Tour de France plaasvind), atletiek, Formule 1-motorwedrenne (met die Grand Prix van Frankryk) en tennis (met die Franse Ope in Parys).
Olimpiese Spele het verskeie kere in Frankryk plaasgevind: Somerspele in 1900 en 1924 in Parys, Winterspele in Chamonix (1924), Grenoble (1968) en Albertville (1992).
| Datum | Afrikaanse Naam | Franse naam | Opmerking |
|---|---|---|---|
| 1 Januarie | Nuwejaarsdag | Jour de l'An | |
| 6 Januarie | Driekoningsfees | Fête des Rois | |
| 2 Februarie | Ligmis | La Chandeleur | |
| - | Paasfees | Pâques | Sondag, datum variëer |
| - | Paasmaandag | Lundi de Pâques | Maandag na Paasfees |
| 1 Mei | Werkersdag | Fête du Travail | |
| 8 Mei | V-E Day | Victoire 1945 | Einde van die Tweede Wêreldoorlog |
| - | Hemelvaartdag | Ascension | Donderdag, 40 dae na Paasfees |
| - | Pinkster | Pentecôte | Sewende Sondag na Paasfees |
| 14 Julie | Bastille Dag | Fête Nationale | Nasionale Dag |
| 15 Augustus | Maria-ten-Hemelopneming | Assomption | |
| 1 November | Allerheiligedag | Toussaint | |
| 11 November | Veteranedag Armistice Day Remembrance Day | Armistice 1918 | Einde van die Tweede Wêreldoorlog |
| 25 Desember | Kersfees | Noël | |
| - | Goeie Vrydag | Vendredi saint | Bykomende vakansiedag in die départements Moselle, Bas-Rhin en Haut-Rhin |
| 26 Desember | Tweede dag van Kersfees | Saint Étienne | Bykomende vakansiedag in die départements Moselle, Bas-Rhin en Haut-Rhin |
Sien: Lys van stede in Frankryk
Frankreich | Franzia | Francland | فرنسا | Francia | Францыя | Франция | Bro-C'hall | Francuska | França | Francia | Francie | Франци | Ffrainc | Frankrig | Frankreich | Γαλλία | France | Francio | Francia | Prantsusmaa | Frantzia | فرانسه | Ranska | Prantsusmaa | France | France | Frankryk | An Fhrainc | An Fhraing | Francia - France | ફ્રાઁસ | צרפת | फ़्राँस | Francuska | Frans | Franciaország | Ֆրանսիա | Francia | Perancis | Francia | Francia | Frakkland | Francia | フランス | fasygu'e | საფრანგეთი | ಪ್ರಾಂಸ್ | 프랑스 | फ्रांस | Fransa | Pow Frynk | Francia | Fransia | Frankräich | Frankriek | Falansia | Prancūzija | Francija | Frantsa | Франција | Франц улс | फ्रांस | Perancis | France | Frankriek | Fraankriek | Frankrijk | Frankrike | Frankrike | France | França | Франц | Francja | فرانسه | França | Frantscha | Franchiya | Franţa | Франция | फ्रांस | Frantza | Francia | Fraunce | France | Francúzsko | Francija | Franca | Француска | France | Frankrike | பிரான்ஸ் | Fransa | ประเทศฝรั่งเศส | Pransya | Pranis | Fransa | فرانسىيە | Франція | فرانس | Pháp | פֿראַנקרײַך | 法国 | Hoat-kok | 法國
This article is licensed under the GNU Free Documentation License.
It uses material from the
"Frankryk".
Home Page • arts • business • computers • games • health • hospitals • home • kids & teens • news • physicians • recreation• reference • regional • science • shopping • society • sports • world